Oop graf

Dit was die titel van ‘n artikel so ʼn week of wat gelede in Beeld deur professor Anton van Niekerk.
Die belangrike vraag wat hy vra in die artikel is of ons iets uit die geskiedenis kan leer?
Ons is pas deur Covid, maar onthou asseblief die Spaanse Griep, wil ons uitroep.

Dink aan wat Rusland deesdae aanvang in die Oekraïne, dan wil ons uitroep: Onthou die twee wêreldoorloë en die gepaardgaande ekonomiese agteruitgang wat altyd met enige oorlog gepaard gaan.

Professor Van Niekerk vra dan ook heel tereg die vraag: Wat is die geskiedenis? Is dit die werklike gebeure in die verlede of is dit die verhaal wat ons vir mekaar vertel oor wat gebeur het in die verlede?

Ons weet dat dinge in die geskiedenis eenmalig gebeur en daarna moet ons, via interpretasie, tot konsensus probeer kom oor wat werklik gebeur het.
Te dikwels egter, loop die verhaal van die geskiedenis gans anders.

Wie sou ooit kon droom dat 22 Junie 1941, die dag toe Hitler die Sowjetunie aangeval het, eintlik die dag was waarop hy die oorlog verloor het? 22 Junie 1941 was ook die dag waarop Europa in die fatale predikament gedompel is wat eers besleg is met die val van die Berlynse muur in 1989.
En wie sou ooit kon droom dat die geboorte van ‘n klein Seuntjie in die nederige stal in die stad Betlehem, die wêreldgeskiedenis vir altyd sou verander?

Die Jode was uitgehonger vir ‘n Messias wat hulle sou bevry van die Romeinse wette en onderdrukking.

Wat het hulle verwag? Die ridder op sy wit perd wat die Romeine vir altyd op hulle plek sou sit? Ek dink daarom was die nederige geboortegeskiedenis heeltemal te sonder glans vir die Jode. Daarom vermoor koning Herodes al die babaseuntjies en Josef en Maria moes vlug vir hulle lewe … en ironies dat hulle na Egipte toe vlug, juis daar waar God se volk vir dekades slawe van die Farao was. Ironies dat juis Egipte dan veiligheid bied vir die Christuskind en Sy ouers?

Professor Van Niekerk sluit sy artikel af deur te sê dat die geskiedenis nie noodwendig iets is wat volgens vaste wetmatighede verloop nie. Daar is slegs mense wat dinge doen en daarmee die wêreld onvoorspelbaar verander.

Ons mag nooit die dinge wat in die verlede gebeur het, geringskat nie en ons sal dom wees om nie die lesse daaruit te leer nie. Daarom mag ons ook nie die lesse geringskat wat die Messias vir Sy onderdrukte volk kom leer het nie. Hy het gesê: Draai die ander wang, vergewe sewentig maal sewe, moenie altyd eerste wil wees nie, dra die tweede myl as jy gedwing sou word om dit een myl ver te dra, want die tweede myl maak van jou ‘n vrywilliger. Ja, die tweede myl maak jou vry van slaafwees en verander jou in ‘n vry man.

Is daar werklik ‘n geskiedenis? O ja, beslis! Want in my geskiedenis was daar ‘n Man wat aan ‘n kruishout gehang het en wat die pad van smaad enduit gestap het … vir mý!

In my verlede is daar ‘n Man wat my genooi het om al my bekommernisse na Hom toe te bring, want Hy wil vir my rus gee.

In my verlede is daar ‘n Man wat belowe het dat Hy my nooit, ooit alleen sal laat in my ellende nie … ek en jy ken dié Man wat die wêreld onherroeplik en onvoorspelbaar verander het … Hy is Jesus wat die Christus genoem word.

Is daar werklik ‘n geskiedenis? Onvoorwaardelik ja! My geskiedenis is Christus en my toekoms is Christus.

Soos altyd: Wees veilig en bly gesond, geniet die laaste koel dae, want die lente is om die draai (dit vertel my hooikoorsneus vir my), onthou waar jy vandaan kom en onthou waarheen jy op pad is.

Ds Danie van Niekerk