Clock-time

Dit was nog nooit sleg gewees om genoeg geld te kon hê nie en niemand sal met my hieroor kan stry nie. Genoeg geld om gemaklik te kan lewe, genoeg geld om jou lewensmaat op daardie lang beloofde vakansie te kan neem, genoeg geld om gereeld vir die ver-kinders te gaan kuier … ja, genoeg geld om jou kinders te kan help as die maand te lank word en die geld lankal klaar is.

Genoeg geld sal vir ons almal heerlik wees om te kon hê … maar wat van tyd? Het ons ook genoeg tyd om al ons genoeg geld wys te kan bestee? En hoeveel tyd het jy nog oor? Soms word ek in die nag wakker en wonder oor hierdie ding: Hoeveel tyd is daar nog oor?

In Matteus 6: 19 – 21 lees ons: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” Dalk moet ons weer hierdie laaste woorde van vers 21 lees: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Die Here Jesus het nooit bedoel dat rykdom of om ryk te wees, ‘n sonde is nie, maar Hy waarsku teen gierigheid en inhaligheid en dat mense sekuriteit soek in die opgaar van geld en goedere. En natuurlik moet ons voorsiening maak vir die toekoms, maar dit mag nooit die plek van Jesus in ons lewe inneem nie. Dit is die Spanjaarde wat hierdie baie bekende spreekwoord het wat maar alte waar is. Die Spanjaarde herinner graag dat die doodskleed nie sakke het nie! En o liewe genade, ek het al menige persoon gesien wat gewens het dat sy doodskleed tog êrens ‘n sak of twee moet hê.

Waar jou skat is, daar is jou hart.

Waar is jou hart? God wil nooit gedeel word met enige ander skatte nie en mense sal baie gou die fokus van jou hart raaksien in die skatte wat jy bewaar. Weet jy wat is die regtige verskil tussen tyd en geld?

Die verskil tussen tyd en geld is altyd dat jy sal weet hoeveel geld jy het, maar jy sal nooit weet hoeveel tyd jy nog oor het nie. Om arm te wees is aaklig … ons was al almal daar, maar om al die geld in die wêreld te hê met geen tyd nie, moet verskriklik wees. Soos altyd: Wees veilig … ek hoor die slim mense voorspel die sesde Covid vlaag is op pad. Geniet wat jy het, maar bestee jou tyd baie, baie wys … dit is eintlik al wat jy het en wat regtig saak maak.

Ds Danie van Niekerk